Gielie het van jongs af geweet hy gaan preek

Ds Gielie Joubert en sy vrou Kotie.

POLOKWANE – Ds. Gielie Joubert (58) is al jare lank ‘n rubriekskrywer vir Review en ons het besluit om meer oor hierdie interessante man te gaan uitvind.

Hy het aan Review vertel dat hy ‘n voltydse predikant is wat graag lees, stap en skryf. “Ek kyk ook graag na realiteitsprogramme en dokumentêre programme op TV, veral programme oor die natuur of wetenskap,” het hy gesê.

Gielie is in Bethal op die bitter koue Oostransvaalse hoëveld gebore. “Dit word daar so koud in die winter dat ons die waterpype met goiïngsakke moes toemaak sodat die water in die pype nie moet vries en die pype laat bars nie,” het hy vertel.

In 1973 het hy sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Vanderbijlpark voltooi. “My kinderjare was nogal redelik stormagtig. My pa is oorlede toe ek ses jaar oud was en my ma moes drie kinders alleen grootmaak. Ons het seker 10 keer verhuis toe ek op skool was en elke keer moes ek aanpas by ‘n nuwe skool en omgewing,” het hy vertel.

“Vir my kom die beste herinneringe uit die tyd toe ek in Hoërskool Hoogenhout in Bethal was. Ek was in gr. 8 en 9 op koshuis daar. Die ondervinding het my taai gemaak en geleer om die klein goedjies te waardeer.”

Gielie het aan Review vertel dat hy reeds as baie jong seuntjie geweet het dat hy eendag in die bediening wou staan. “Dis al wat ek nog my hele lewe lank wou doen. Ek het reeds op skool wyd gelees oor ‘n verskeidenheid geestelike onderwerpe. Vir een van my biologietake kon ons self die onderwerp kies en ek het ‘Godsdiens en Wetenskap’ as tema gekies,” het hy gesê.

Hy het gesê dat Jesus nie regtig vir hom ‘n lewende werklikheid was nie, al het hy in ‘n Christelike huis grootgeword en Sondagskool bygewoon. Sy ouma het wel ‘n baie groot rol gespeel in sy geloofslewe en in gr. 10 het hy sy hart vir die Here gegee.

“In standerd agt (gr. 10) het ek my hart vir die Here gegee nadat ek ‘n boekie genaamd Die Hemel en Hoe om Daar te Kom gelees het. Ek was alleen by die huis toe ek dié boekie gelees het en dit het ‘n geweldige indruk op my gemaak.

“Vir die eerste keer het ek besef hoekom Jesus so wreed aan die kruis moes ly. Hy moes daar betaal vir die ongeregtigheid van die wêreld en ook vir mý sonde. Dit was ‘n radikale keerpunt in my lewe.”

Na skool het hy aan die N.G. Kerk se Kweekskool aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, want hy wou van jongs af ‘n predikant word. “Ek het ook ‘n B.A Hon-graad in semitiese tale, die Ou Testamentiese se tale, behaal en daarna het ek ook ‘n M.A. graad in semitiese tale voltooi terwyl ek ingeskryf was by die Teologiese Seminarium van die Baptiste.

“Daarna het ek my D LITT ET PHIL, my doktorsgraad, met semitiese tale as tesis aan Unisa voltooi terwyl ek my militêre diensplig voltooi het. Ek het daar as kapelaan gewerk en ook vyf maande grensdiens gedoen in Namibië.”

Dit was tydens sy tyd op die grens tussen Namibië en Angola in die destydse bosoorlog wat hy eerstehands gesien het watter lyding oorlog bring. “In een van my kampe is die mediese ordonans se been afgeruk deur ‘n landmynontploffing.”

Maar daar was goeie herinneringe ook. “Ek het die voorreg gehad om troepe te bedien in basisse op die grens. Die weermag het baie seuns se lewens verander. Soos die gesegde lui: Life polishes you up or grinds you down according to the material you are made of,” het hy verduidelik.

In 1976 is Gielie met sy vrou, Kotie, getroud en hulle het twee dogters. “Ek het ook ‘n kleinseun, Tiaan, wat 11 jaar oud is en die liefde van my en Kotie se lewens is,” vertel hy trots.

Gielie het vertel hoe trots hy is op die Houtkruisgemeente wat hy saam met sy gemeentelede in Polokwane gebou het. “Ons was so ‘n klein gemeentetjie en tog het ons daarin geslaag om die erf met die pastorie op, die kerkgebou met saal en kombuis asook die kinderkerk se lokale kontant te koop en te bou.”

Hy het vertel hoeveel harde liefdeswerk in hierdie kerk ingegaan het.

“Daar is baie aande baie laat gewerk. Die dag van die inwyding was die vernis nog so nat op ons blokkies dat ons spore getrap het oral waar ons geloop het. Dit was alles die moeite werd.”

Gielie en Kotie het in 2011 uitgetree en na Hartenbos verhuis waar hy aktief betrokke is by die Koninkryk van God- en in die gemeenskap. Hulle het in 2012 die Kom Tuis Christen Gemeente op Hartenbos gestig.

  AUTHOR
Maretha Swanepoel
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
[ALERT] Tree cutting in Dorp Street could cause traffic disruptions