Aand van die Sterre vereer rugbylegende, sakeman

PHS se Pietie van die Jaar, die oud-Springbokrugbyspeler Joe Kaminer, het sy oorkonde tydens Hoërskool Pietersburg se jaarlikse Aand van die Sterre in ontvangs geneem. Boela van der Merwe (vriend), Sharon van der Merwe (susterskind), Linette en Louis Scott (organiseerders), Joe Kaminer en Judy Hankinson (vriendin).

POLOKWANE – Vanjaar is weer erkenning gegee aan twee oud-Pieties wat merkwaardige prestasies na hul skoolloopbaan bereik het.

Barry Streicher, soos menigte inwoners hom sal onthou.

Postuum-toekenning: Barry Streicher.

Die postuumtoekenning is vanjaar aan Magda Streicher, gade van bekende inwoner, Barry Streicher, oorhandig.

As oud-leerder uit die klas van 1962, het Barry Streicher hom as bekroonde sakeman en passievolle bees- en wildboer in die gemeenskap van Polokwane (toe Pietersburg) uitgesonder.

Na sy twee-jaar diensplig in die SA Nasionale Vloot, keer hy terug na Polokwane waar hy vinnig in die sakewêreld opgang maak. Tydens ‘n kleurryke loopbaan as eienaar van Toyota in Pietersburg, is die toekenning as handelaar van die jaar vyf keer aan hom oorhandig; tot dusver die meeste nog deur ‘n enkele handelaar. Hy dien ook op Toyota SA se adviesraad en word in 2001 as sakepersoonlikheid van die jaar in Polokwane aangewys.

Hy tree vir baie jong sakelui as mentor op en was bekend vir sy groothartigheid teenoor skole en ouetehuise. Sy ruim hart teenoor PHS sal altyd onthou word.

As suksesvolle bees- en wildboer was dit sy trots om kwaliteit-diere met ‘n uitsonderlike voorkoms en bloedlyn aan kopers te bied.

Na sy dood, op 29 Julie 2015, word hy deur ‘n goeie vriend, Jannie Moolman, soos volg beskryf: “Barry Streicher was ‘n seun van die bosveld hier in die noorde. Sy heengaan is soos ‘n groot kremetartboom wat na jare, in die veld omgeval het”.

Joe Kaminer, Pietie van Jaar, het tydens die funksie sy Springbokbaadjie aan PHS Skoolhoof, Willie Schoeman, oorhandig.

Pietie van die Jaar: Joe Kaminer.

Die gesogte Pietie van die Jaar-toekenning is later die aand aan die oud-Springbok rugbyspeler, Joe Kaminer, oorhandig.

Kaminer het in 1951 aan PHS gematrikuleer en het hom daarna op die nasionale en provinsiale rugbyvelde van Suid-Afrika uitgesonder. Na matriek, verwerf hy sy B.Com Rek-graad aan Wits-Universiteit en raak as beroepsman by verskeie besighede betrokke, meestal in die rekenkundige sy van die drukkerbedryf.

As rugbyspeler het hy vir PHS, die ‘Sables’, die SA-Universiteitespan en die destydse Transvaal Rugby Unie uitgedraf. In Augustus 1958 speel hy eers as junior Springbok en ‘n paar weke later as senter van die Springbokke, in ‘n toets teen die Franse Hane op Ellispark.

Soos opgeteken in die boek, The glory of the game, word hy een van slegs 10 lede van die Joodse geloof om Springbok-rugbykleure te verwerf.

In 2016 skenk hy die meeste van sy rugby-aandenkings aan die Leeus Rugby Unie se museum en verewig so sy nalatenskap aan die Suid-Afrikaanse rugby-geskiedenis.

In sy reaksie het die PHS-hoof, Willie Schoeman, gesê dit is elke jaar vir die skool ‘n groot eer om dié toekennings te maak. “Ons gee hiermee erkenning aan ons oud-Pieties wat hard gewerk het om ‘n staanplek in die lewe te kry.” Hy het bygevoeg dat dit ook vir die leerders ‘n voorbeeld stel van wat na ‘n loopbaan by PHS op hulle wag.­

Mari Geerkens en Louis Nel neem die Springbokbaadjie van oud speler en Pietie van die Jaar, Joe Kaminer.

[email protected]

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

  AUTHOR
Riana Joubert
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
[WATCH] Powerful performance lands learners with gold, silver