Te midde van omgee-wing

Ek wonder of die lewe en die mense daarin regtig soveel verander het en of dit net maar ek is wat nog altyd onder ‘n wanindruk was. Foto: Verskaf

Ek wonder of die lewe en die mense daarin regtig soveel verander het en of dit net maar ek is wat nog altyd onder ‘n wanindruk was.

Toe ek groot geword het, was sekere dinge vir my vanselfsprekend. Dinge soos jy gooi nie rommel rond nie, jy spaar water, jy verniel nie bome of plante sommer netso nie, jy pas die veld en die natuur op so goed jy kan. Jy behandel ander mense met respek, veral ou mense en vroue en jy het jou gedra – jy vertel nie leuens nie, word nooit dronk nie, veral nie in die openbaar nie en jy vloek nie.

As ek dit nou vir my kinders noem of sommer om my kyk, voel dit of ek van ‘n vreemde planeet afkom. Water stroom in die strate af. Kinders vloek woeste woorde in die openbaar en drink op die skoolbus. Die president en sy gesante lieg en as jy nie steel nie, is jy uit. Elkeen kyk net na homself en die duiwel haal die res.

‘n Mens raak skynbaar gewoond daaraan. Ek kyk ook na al die flieks en stories waar hulle so woes vloek dat ek dit nooit, nie eens vandag, saam met my pa sou kon kyk nie. Maar die feit dat ons nie meer vir die natuur in ons eie omgewing omgee nie, maak my bang. Die eerste keer toe ek besef het almal voel nie soos ek nie, was toe die outjie van Sasol vir my gevra het wat fout is met Sasolburg. Met alle respek gesê, as jy Sasolburg en Steenbokpan, 14 jaar gelede, vergelyk het, was die verskil nogal duidelik. Sedertdien spook en spartel ek, soms stoksielalleen, vir die behoud van my stukkie paradys. Hoe deeglik ek gefaal het, het ek verlede week eers besef.

Met die begin van nog ‘n steenkoolmyn, die keer noord van Lephalale, sê ‘n boervrou wat daardeur geraak word vir my: “Plaas bou hulle die myn op Steenbokpan. Dis mos al klaar opgedons daar”. Dis met nuwe, traan-oorstoomde oë dat ek vanoggend op pad dorp toe na my omgewing kyk. Sy’s reg. Ek het die stryd verloor. As jy wou sien hoe my stukkie paradys in Steenbokpan lyk, is jy te laat.

Vir geld is ons paaie snuif getrap, tussen kameeldoringbome blink die plakkershuisies soos sinkplaatdamme. Half ses soggens lyk dit soos spitstyd in Boomstraat op die kruising waar jy een tyd net vir donkiekarre en Oom Gerrie moes uitkyk. Plase vol bome is omgedolwe om toetsgate vir Sasol te grawe en skoon te maak vir drie beoogde myne. Langs die pad staan drie brûe onverbonde in die veld en wag op ‘n treinspoor wie se geld opgedroog het. Langs die pad lê ‘n matossie doodgery en ek tjank sommer hardop.

Hoe is dit dat ons nie meer omgee nie? By publieke deelname vergaderings hoor ek hoe boere baklei vir hulle pond vleis. Hulle sal verkoop as die geld reg is, of die lyn laat span as die vergoeding goed genoeg is. Is ons nie pagters van hierdie aarde nie? Sal ons nie moet rekenskap gee aan die Rentmeester nie? En wat sal ons vir ons kinders se kinders sê?

Die ou gesegde dat ons nie die aardes van ons vaders erf nie, maar van ons kinders leen, is sommer nou belaglik gemaak. Ek skaam my voor die kremetart en die knoppiesdoring wat lang gomtrane huil. Ek skaam my voor die bakoorjakkalsie wat nog in die gras vir sy maatjie wag. Ek skaam my voor die kiewietjies wat hulle lewe wil gee vir ‘n stukkie aarde met ‘n eier op. Ek skaam my voor die sagte oë van die koedoekoei as sy terugkyk deur die takke.

Maak nie saak wat almal dink of doen nie, sekere dinge is eenvoudig verkeerd en sekere dinge reg. Mens spaar water omdat dit kosbaar is. Mens staan op en baklei vir die natuur, omdat sy nie haar eie stem het nie. Mens kyk met respek na die stukkie van die skepping wat aan jou toevertrou is. ‘n Mens gee om.

  AUTHOR
Elana Greyling

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Nog ‘n boer…