Verlange

Foto: Pinterest

Ek weet as dit 12 uur is, want dan verlang ek na my kinders. Ek verlang vroeg in die dag al na my man. Ek verlang na my ma as sy te lank slaap, in die kamer net langs ons s’n, of as ek ‘n dag moet weggaan.

Ek begin nie eers later verlang na ‘n ruk nie, nee, my verlange is omtrent die heel ergste voor jy by die hek uitgery het.

Om nie eens te praat van daai Sondae-aande se verlang na iemand wat jy nie eens ken nie.

Wat is daar in ‘n mens se hart wat jou so laat verlang? Is dit die behoefte aan liefde of die nabyheid van ‘n geliefde? Dalk is dit die vrees vir alleen wees. Ek weet nie.

Ek is doodgelukkig om op my eie te wees. Alleen-wees is nie sinoniem met eensaamheid nie. Tog is daar in die meeste van ons ‘n inhirente behoefte aan ander.  Die mens is immers nie gemaak om alleen te wees nie. Party, meer as ander.

Sosiale media is besig om die fisiese nabyheid van een mens aan ‘n ander heeltemal uit te wis. Ek kyk na kinders wat langs mekaar sit en ‘kuier’, maar elkeen is op sy eie foon. Beteken dit dat ons besig is om hierdie behoefte te ontgroei?

In ons samelewing is daar reeds soveel mense wat noodgedwonge alleen is. Meer en meer word kinders, sodra hulle die sleutelgat kan bykom, smiddae alleen groot. Ons ou mense word al hoe meer alleen gelaat. Stede word vol kluisenaars.

Ek sal nooit kan ontslae raak van die groot verlang nie, nee, daarvoor is ek nou al te oud. Al wat ek nou maar kan doen, is om almal om my lief te he, te waardeer, te irriteer met my verlange en hopelik voor almal die tydelike met die ewige te verwissel!

Ons, wat nog verlang, moet maar saam staan en uitreik, of hoe!

  AUTHOR
Elana Greyling

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Rookseine en ander boodskappe