Nuwe skoene

My vriendin is mal oor nuwe skoene.

As sy depressief is, gaan koop sy skoene of mooi onderklere. Mens sou dink sy sal daardie ‘Wow’-tipe skoene dra wat mense se koppe laat draai, maar sy doen nie. Sy dra nie eintlik hoe hakke nie en sy is nie flashy nie.

Nie soos ‘n ander kennis van my wat moet kameelperd-treetjies gee omdat sy skoene koop wat mooi is, nie waarmee jy noodwendig kan loop nie. My kinders het ure se plesier gehad om haar na te aap.

En toe stuur sy, dis nou my sindelike praktiese vriendin vir my ‘n foto van haar nuwe skoene. Ek was sprakeloos. Dis hemelhoog, met sexy bandjies en ‘n oop toon en hak en is bloedrooi.  Dis ‘Aitsa’-skoene, dis stoute skoene, dis ‘take a walk on the wild side’-skoene, dis al-die-pad-na-Oz toe-skoene, dis dagbreek-toe!-skoene, dis Kyk-vir-my-skoene, dis ‘I’m sexy and I know it”-skoene, dis ‘ek wens ek het jou guts gehad-jaloers’-skoene.

My hart jubel vir haar. Sy is besig om deur ‘n baie moeilike tyd te gaan van egskeiding en self-twyfel en al die berou wat daarmee saamgaan. Maar as mens sulke skoene koop, en hopelik dra, gooi jy ‘n uitdaging terug in die lewe se gesig! Jy se: “Hoesit! Kom try my. Ek met nuwe skoene aan!”

Ek voel trots en verlig en hartseer alles gelyk. ‘n Vrou wat kan opstaan uit die modder en die bloed van ‘n slagveld, verdien sulke hemelhoe rooi skoene! Sy kan met haar kop hoog uitstap. Dis alles wat ek vir haar gehoop en gebid het. Vir haar en ‘n hele paar ander van my vriendinne.

Soos my kunstenaar-vriendin wat nooit heeltemal weird genoeg lyk nie en daarom deur mense onderskat word. Maar tussen haar talente en haar gesin, nog dapper teen die groot K veg.

Of my vriendin wat regtig weird is, maar dankloos veg vir die regte van ander en soms voel soos wandelende lyk, ‘n zombie, waaruit aasvoels stukke vleis uitruk. Maar sy help haar kleinkinders grootmaak en as jy haar bel in die nood, is sy steeds daar.

Vir my vriendin wat permanent met pyn moet saamleef, maar te besig is om dinge vir ander te doen om ooit stil te staan en iets te wys. Of die een wat vrou-alleen industriele reuse aanvat, vreesloos staan voor intimidasie en diskriminasie en soms selfs bo uitkom. Of my ma wat al hoe stiller en kleiner verder van die realiteit wegkruip, opgewerk vir kerk en naaste.

Vir al die vroue wat uithou en aanhou, al is hulle harte swaar en hulle arms lam, al is hulle kinders stout en hulle broeke te styf, hulle mans knorrig en onoplettend, hulle huise te deurmekaar vir ‘n skoonma-inspeksie, hulle kinders oorsee en hulle vriende ver en jy weet wat alles nog . . .

Vir hulle wil ek ‘n paar nuwe skoene gee: gemaklik genoeg om die pad te kan vat, sterk genoeg om die pad te deurstaan en aitsa genoeg om hul harte te kan dra!

  AUTHOR
Elana Greyling

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Nog ‘n boer…