Marina van Eeden: formidabele vrou met ‘n sagte hart

Marina van Eeden.

POLOKWANE – “And there are those who give and know not pain in giving, nor do they seek joy, nor give with mindfulness of virtue. They give as in yonder valley the myrtle breath its fragrance into space. Through the hands of such as these, God speaks and from behind their eyes He smiles upon the earth.” – Kahlil Gibran.

“Limpopo, Polokwane is in my bloed, die waters van die Groot Letaba bruis deur my are, die wind van die Soutpansberg waai deur my hare. Die Bosveldson en -stof lê op my vel, die koeltes van die groot maroelabome en kremetarte is in my are. Ek is ‘n kind van Limpopo, van Afrika.” Dié is Marina van Eeden (82) se woorde.

Ek word verwelkom deur van die laastes van die boere-adel in Polokwane met kerse wat brand om my kuier te vier, ‘n bossie pers laventel, ‘n kruieboeket garni en goudgeel suurlemoenmarmelade word in my hande gesit om saam te neem wanneer ek gaan.

Die hartlikheid is steeds daar, en sy kan deur ‘n ring getrek word, soos altyd.

“Vandat my man oorlede is vyf jaar gelede beleef ek ‘n sagter tyd,” vertel sy. “Ek dien nie meer op komitees nie en is net ere-president van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede en is betrokke by die seniorbediening by die N.G. Noord-gemeente. Ek gaan so twee, driekeer per week Eeufeeshuis toe. Een maal per jaar gaan ek en my kinders en kleinkinders laeveld toe om die familiegrafte te verfris en ek is dankbaar vir die geleentheid.” Sy geniet die geselskap van jongmense en om ouma en tante te wees vir kinders en kleinkinders en ‘Ouma Dorp’ te wees vir die kinders van Dendron en Vivo.

So vertel die vrou wat grootgeword het naby die koninkryk van die reënkoningin Modjadji, en op nege saam met haar pa bier uit ‘n kalbas gedrink het met dié regent.

Jare later, toe sy 21 jaar oud was, het sy as deel van ‘n groep onderwyseresse van die destydse “Commonwealth” tee gedrink, die keer in porseleinkoppies, met Koningin Elizabeth van Engeland toe haar man, Kalvyn, in Londen studeer het en sy klasgegee het by ‘n skool.

Marina het grootgeword naby Giyani en Duiwelskloof en vandat sy vier jaar oud was met haar pa rondgery in sy bakkie en die name van die bosveldbome in Afrikaans en Sepedi leer ken. Vandag nog praat sy vlot Sepedi en is sy baie lief vir bome. “Ek was op Duiwelskloof op laerskool en het een myl na die busstop gestap met my kappie en bottel water, vanwaar ons tien myl skool toe gery het met die bus. Vandat ek 11 jaar oud was moes ek vyfuur in die oggend opstaan om die trein vanaf die Munnikstasie te neem om aan die Hoërskool Pietersburg te studeer. In 1952 was ek hoofmeisie en in 2013 is ek gekies as Pietie van die Jaar.”

Marina is op 21 met dokter Kalvyn getroud, ‘n Karooman in murg en been, distrikgeneesheer en dokter van die asbesmyne. Hulle het drie kinders gehad.

” Ek mis hom steeds en sien hom in alles,” vertel sy. Een van hul kinders is verstandelik gestremd, en Marina, ‘n preprimêre onderwyser het ‘n skooltjie vir vier gestremde meisies vanuit haar familiekamer begin, aangesien daar nie geriewe vir die kinders was in die destydse Pietersburg nie. So het sy een van die stigterslede van die Nuwe Horisonskool geword en was ook verantwoordelik vir die leuse (“Volhard”) en het sy vir die eerste 10 jaar die laaste klas elke dag, die stimulasieperiodes, aangebied by die skool. Later het sy gevra dat daar koshuise gebou moet word. Sy het ook aan die begin vir 10 jaar op die adviesraad van Piet Joubertskool gedien en was stigterslid van die Verre Noord Kreupelsorgvereniging en Eeufeeshuis, asook die Trix Nortman werkswinkel by Eeufeeshuis. Sy is nou reeds 57 jaar vrywilliger in die wêreld van die gestremde en 36 jaar erepresident van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede in Limpopo.

Marina het talle toekennings deur die jare ontvang, internasionaal sowel as provinsiaal. In 1977 het sy ‘n toekenning in Amsterdam ontvang vir haar werk met veelvuldige sklerose, in 1993 was sy die tydskrif ‘Sarie’ se Leefstylvrou: Maatskaplik,en in 1995 het sy die Rotariërs se Paul Harris Fellowship ontvang, en later die Lions Club se Melvin Jones Fellowship.In 1991 het sy ‘n nasionale toekenning gekry vir haar werk by die Verre Noord-Transvaalse Kreupelsorgvereniging, in 1993 ‘n toekenning vir gemeenskapdiens en in 1994 was sy op die kortlys vir die Excelsior toekenning. In 1995 het sy die Lions SA se toekenning vir ‘Citizen of the Year’ ontvang, In 2010 word sy deur die Vereniging vir Persone met Gestremdhede vereer vir 50 jaar se vrywillige diens, asook die Vroue Landbou-unie vir uitnemende gemeenskapsdiens. In 2012 het sy ook die kosbare Goue Rolstoelknopie vir onbaatsugtige diens ontvang.” Maar die grootste toekenning was die genade van Bo, om te kan doen wat ek kon” sê sy.

“Ek is van die ou skool, maar modern. Ek skep vir myself ‘n reënboog elke dag, geniet my kinders en kleinkinders. Daar is só baie dinge wat ek in my leeftyd beleef het: Die Tweede Wêreldoorlog, my nefie Dirk-Willem van Rooyen wat in die bosoorlog gesterf het, die ontdekking van die middels teen malaria en bilharzia, die splitsing van die atoom, die maanlanding en eerste hartoorplanting – my man het destyds by Grootte Schuur gewerk, die eerste surrogaatbaba, nieroorplantings… Die ontwikkeling van die wetenskap was net so ontsaglik. Ek was geseënd om in ‘n baie opwindende tyd te leef, maar ek vind my rykdom in eenvoud. Ek het myself aan die slaap gehuil toe die ou groot kremetart vroëer vanjaar in twee geskeur het.”

Vir die jonger geslag gee sy die raad: “Luister na jou diepste instinkte en die wysheid van die eeue, wees lief vir jou familie en vriende, bly fiks en gesond, onselfsugtige en gelowig. Behou balans in alles.”

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

  AUTHOR
Nelie Erasmus
JOURNALIST

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Sidewalk between Jorissen and Grobler Streets a ‘health hazard’