Soos ‘n vis uit die water

Foto: dietsarefattening

Ek lag net die naweek so saggies-saggies en ver agter in die kombuis oor die jagters wat hierdie tyd van die jaar die bosveld invaar. Hulle is uitgevat van kop tot tone in kamoefleerdrag, tot hulle messe en hulle geweersakke is byna onsigbaar. Maar hulle steek soos ‘n pusie op ‘n voorkop uit. Ons wat ou kalante in die bos is, weet bosvelders en bokke sien kamoeflering van ‘n myl af. As jy my nie glo nie, kom kyk maar net op ‘n Sondagmiddag, as die groot trek terug Gauteng toe al by die Kranskop Toplaza verby is, hoe die rooibokke oorkant my kombuisvenster wei.
En vanmôre, uitgevat in my beste, stap ek op die lughawe rond en ek weet sommer ek lyk soos ‘n vis uit die water. Dis nie die eerste keer dat ek vlieg nie, glad nie, maar dis beslis nie my natuurlike habitat nie. Ek sit en vergaap my aan kindertjies met hul eie pienk sleeptassies, warm woljasse en stewels, wat beslis meer tuis is as ek. Daar’s selfs ‘n ou in ‘n verbleikte denim en ‘n wolmus met oorfone bo-oor wat meer tuis lyk as ek.
Asof dit nie erg genoeg is nie, moet ek bagasie, of liewer pakkaas, en al na my eerste vergadering. Die Kaapse ‘chickies’ groet my vriendelik, maar ek kan sien hulle moet sluk om by glimlag te bly. Hulle dra kort ontwerpersrompies, ragfyn ‘leggings’ en egte leerstewels. Met gerugte van ‘n ysige Kaap, swoeg en sweet ek met my tas vol van al my warm klere, hadsak, rekenaarsak en pappa se ekstra warm baadjie oor die arm. Maar ek hou my kop hoog en maak of dit die natuurlikste bybehore is by ‘n Kaapstadse vergadering met prokureurs en groen-aktiviste.
Later gee ek nie eers meer om nie. Ek, my kollega, ‘n rasta-tjommie van haar uit Gugulethu en die pakkaas Uber tot by die berg en vaar die kabelkarre op. Mense kyk my aan, maar ek teug aan my glas wyn terwyl ek ver in die rigting van Houtbaai en Vishoek staar en my verbeel ek ruik brejanie en snoek. ‘n Uitlander kom neem ‘n foto van ons, dis nou ek, die berg bagasie en ‘n dassie wat moes kom kyk wie op hierdie sonskynmiddag sy berg durf betree.
Eindelik by die gastehuis, bestel ons maar vis en tjips van ‘n ketting-restaurant en verbeel ons dis regte Kaapse stokvis.
Maar dis alles piekfyn, want nou en dan is ons mos maar almal effe uit ons plek.

  AUTHOR
Elana Greyling

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Rookseine en ander boodskappe